Ons Tema Vir 2026
Vanjaar fokus ons op die vervulling van elke leerder se potensiaal en die bou van 'n gemeenskap waar almal se lig skyn.
"In die Norie-tuin, groei jou drome ruim"
Ontdek die vele maniere om betrokke te raak in ons skoolgemeenskap
Nories hou van alles wat lekker is, van geesvang tot groot pret
Die sosiale kalender by Noordheuwel is stampvol en baie geleenthede word op formele sowel as informele vlak gereël om aan elke Norie se smaak te voldoen. Sosiale ontwikkeling word ook beskou as 'n baie belangrike komponent van die leerders se ontwikkeling en daarom word verskeie geleenthede en funksies gereël om aan hierdie behoefte van tieners te voldoen.
Nories se Harte is vol Liefde
"Dankie, Hoërskool Noordheuwel, vir die wonderlike gebaar. Ons kinders by Huis Nehemiah slaap vanaand warm, omdat julle harte so warm klop vir ons. Julle hulp beteken die wêreld vir ons, veral omdat ons geen staatsbefondsing kry nie en 100% staatmaak op privaat donasies om ons werk voort te sit nie."
– Kyle Tolman, HUB van Cross Connect
Nories het orgideë en blou Energades vir onkologiesentrums uitgedeel. Bejaardes is bederf met 'n pakkie vol eet- of badgoed. Nories gee ook om vir diere en ons het komberse en kos vir FORA en 9th Day geskenk. Nories maak graag 'n verskil in die gemeenskap!
Die fotografieklub bestaan uit leerders wat ‘n passie het vir fotografie. Hulle neem graag foto’s by enige byeenkoms of funksies van die skool. Daar vind ook kwartaaliks kompetisies plaas waar fotograwe die geleentheid kry om kreatief te raak met kameras!
Die Norie Stapklub is ʼn voetslaangroep wat staptoere regoor Suid-Afrika en selfs in die buiteland onderneem (ons het al in Namibië gaan stap, asook die Camino in Portugal en Spanje baasgeraak). Dit bied aan enige leerder die perfekte geleentheid om by ʼn skoolsport in te skakel, deel te vorm van ʼn span, te ontwikkel, sy/haar uithouvermoë te toets, ons land te sien en sommer net die natuur en buitelewe te geniet.
Ons het gemiddeld vier stappe per jaar waarby minstens 30 leerders betrokke is. Ons stap ongeveer 30km per roete.
Die stapklub is die plek waar elke leerling kan voel dat hy êrens hoort
Die Groenspan is 'n volhoubaarheidsgroep wat poog om 'n impak in ons omgewing en in die natuur te maak. Ons is betrokke by vele projekte, soos die skoonmaak van die Botaniese Tuin se rivier, die uithaal van uitheemse boomspesies en die aanplant van bome.
Ons het ook 'n herwinningskomponent waar ons papier herwin en daardie inkomste word gebruik vir ons eie groentetuin. Die opbrengs daarvan word weer geskenk aan behoeftiges in die gemeenskap.
Enige leerder met die regte ingesteldheid en genoeg moed om 'n verskil te maak, kan deel wees van hierdie groep.
By Hoërskool Noordheuwel is gees meer as net skooltrots – dit is deel van wie ons is. Van interhuisbyeenkomste en sportdae tot kultuuraktiwiteite en sosiale geleenthede, leef Nories elke dag met passie, energie en samehorigheid.
Hier bou ons herinneringe, vier ons suksesse en staan ons saam as een blou familie.
Daar is iets vir almal. Sluit aan by een van ons verskeie aktiwiteite en maak 'n verskil.
Vanjaar fokus ons op die vervulling van elke leerder se potensiaal en die bou van 'n gemeenskap waar almal se lig skyn.
"In die Norie-tuin, groei jou drome ruim"