Visie, Missie & Waardes

Die beginsels wat ons rig en die fondasie vorm van elke Norie se reis.

Ons Visie

Hoërskool Noordheuwel moet die mees gesogte Christelike Afrikaanse Hoërskool wees wat as skool strewe na uitnemendheid en die uitleef van ons waardes.

Ons Missie

  • Christelike moedertaalonderrig.
  • Uitmuntende akademie.
  • Lojaliteit, integriteit, dissipline en respek.
  • Uitnemendheid en gebalanseerdheid ten opsigte van sport, kultuur, geestelike en emosionele ontwikkeling.
  • Gelukkige, gemotiveerde en betrokke leerders en ouers.
  • Gehalte onderrig met gemotiveerde, bemagtigde en tevrede kwaliteitspersoneel.

Ons Waardes

  • Christelike Afrikaanse onderrig.
  • Akademie moet uitmuntend wees en voorkeur geniet.
  • Ons glo aan integriteit, deursigtigheid, lojaliteit, dissipline en respek vir die waardigheid van elke individu.
  • Ons bevorder massadeelname sowel as prestasiedeelname.
  • Sport, kultuur, geestelike en emosionele ontwikkeling is ewe belangrik.
  • Leerders moet gelukkig en gemotiveerd wees om hul beste te doen.
  • 'n Gemotiveerde, bemagtigde en tevrede onderwyserkorps is die sleutel tot sukses.
  • Ons doen alles uitstekend en van 'n hoë gehalte.

Algemene Skool Inligting

Maandag tot Vrydag 07:25 – 14:00. Vir volledige inligting oor skoolbywoning, lees meer onder skoolreëls.

Onderriggeld word jaarliks bepaal en is maandeliks vooruitbetaalbaar voor die 7de van die maand. Die totale bedrag moet nie later nie as die 1ste Desember inbetaal wees.

  • 1ste betaling betaalbaar voor die skool open in Januarie 2026 = R4500
  • 11 paaiemente van R3730 = R41 030
  • Totale skoolgeld vir 2026 – R45 530 per leerder

Indien totale bedrag voor 31 Maart 2026 betaal word, ontvang u 'n korting van R3000. Die totale bedrag betaalbaar is dan R42 530.

Debietordervorms is by die kantoor beskikbaar.

Subsidie forms sal beskikbaar wees elke jaar vanaf Februarie. Kontak Me Nanette Uys vir meer inligting: nanette.uys@nories.co.za

Navrae:

Enige navrae in verband met skoolfonds:
Me Nanette Uys
nanette.uys@nories.co.za

Bankbesonderhede:

Hoërskool Noordheuwel
Absa Bank
Rekeningnommer: 310 391 255
Verwysing: Leerder se rekening nommer soos wat dit op die staat verskyn

Belangrike datums vir 2026, sal onder Nuwe Nories bekend gemaak word. 'Aansoek om toelating' dokumentasie wat by die skool of op die webblad beskikbaar is, kan voltooi word en dien as aanvullende inligting tot die amptelike aanlyn registrasie.

Toelating is streng onderhewig aan die beskikbaarheid van benutbare akkommodasie en personeel soos deur die onderwysbeleid bepaal.

Hoërskool Noordheuwel bedien verskeie busroetes teen 'n koste. Vervoer na afloop van oefening van buitemuurse aktiwiteite om 17:00 is ook beskikbaar. Name moet in roete boek aangeteken word.

Buskaartjies is beskikbaar by me Daleen Holton. Betalings vir buskaartjies kan kontant gedoen word by me Holton of inbetaal word deur middel van EFT in die skool se bankrekening. Meld asb die leerder se naam en epos dit na daleen.holton@nories.co.za.

FOOIE VIR 2026
  • Enkelritte: R70 per rit.
  • Tien ritte: R640 per week (10 ritte)
  • Maandkaartjie: R95 per skooldag vir maandkaartjie.

Enige navrae i.v.m. busse word deur Me Rina Steyn – 011 954 1032 / rina.steyn@nories.co.za hanteer.

Noordheuwel se eie klerewinkel, langs die snoepie, is daagliks oop gedurende die skoolkwartaal vanaf 6h45 tot 14h30. Gedurende Desember en Januarie geld spesiale winkelure. Die klerewinkel hou alle Noordheuwel skooldrag aan, behalwe seuns langbroeke en skoolskoene.

NAVRAE

Kontak die klerewinkel vir pryse of kwotasies:
Engela Briedenhann (011) 954-0594 / 083-644-7344

ELEKTRONIESE BETALINGS

Naam van rekening: Klub Nories
Bank: ABSA
Rekeniningnommer: 4123434570
Verwysing: Naam & Van (Leerder)
E-pos vir bewys van betaling: klerewinkel@nories.co.za

Hoërskool Noordheuwel het 'n onbenydenswaardige en unieke situasie rakende verkeer en parkering. Oplossings oor hoe om die verkeersdruk voor en na skool die hoof te bied en sekuritet te verbeter, word deurlopend oorweeg. Die tendens onder matrieks om met eie motors skool toe te kom, vererger die verkeersvloeiprobleem by die skool. Die skool kan ook nie verantwoordelikheid vir die sekuriteit in die straat aanvaar nie. Daarom word matrieks sterk afgeraai om met eie vervoer skool toe te kom.

Noordheuwel het 'n beperkte aantal sluitkassies beskikbaar in twee verskillende groottes, nl. gewoon en sportsluitkassies (uitsluitlik vir hokkie- en krieketspelers) wat teen 'n jaarlikse fooi gehuur kan word.

Geen betalings per EFT sal aanvaar word nie, slegs kontant inbetalings wat by me Daleen Holton in die finansieskantoor gemaak word. Die kwitansie word dan na oom Hennie, ons faktotum, geneem om 'n sluitkassie toegeken te kry. Leerders is self verantwoordelik vir 'n slot vir die sluitkassie. Daar sal slegs een kassie per leerder toegestaan word.

KOSTE
  • Gewone kassies: R400.00 per jaar
  • Sportkassies: R600.00 per jaar (slegs hokkie en krieketspelers)

Die MySchool MyVillage fondsinsamelingsprogram samel fondse in vir skole. HS Noordheuwel gebruik hierdie fondse vir projekte soos die uitbreiding van die Nories@Work lokaal waar leerders hul huiswerk kan doen. Om 'n ondersteuner te word, moet jy registreer by MySchool en 'n skool kies om te ondersteun. MySchool kaarthouers kan voordeel trek uit verskeie spesiale aanbiedinge en aflsag. Kaarthouers is outomaties deel van Woolworths se WRewards program, kry R40 afslag op elke GetAhead of MathPro sagteware item en eksklusiewe afslag by Altech Netstar. Jy kan aanlyn registreer, 'n kaart by jou plaaslike Woolworths kry, of die skool kontak. Dit is vinnig en maklik!

Snoepie debietkaarte waarop u snoepiegelde kan deponeer is beskikbaar. Betalings moet in die vlg rekening gemaak word:

Krag DOB Snoepie
Nr: 4077282835
Tak: ABSA Krugersdorp
Takkode: 632005
Tipe rekening: Lopende

Bewys van betaling plus leerling se naam en van as verwysing moet aan me ronel.musgrove@nories.co.za gestuur word.

Bly ingelig

Die D6 Schools Communicator stel jou in staat om daagliks die jongste nuus, veranderinge in die Norie Dagboek en belangrike dokumente, soos toetsroosters te ontvang op jou rekenaar of op jou foon. Om die D6 Communicator af te laai en te installeer, druk hier. Vir meer inligting oor spesifieke sake, kry die relevante kontaknommers hier.

Bankbesonderhede

Hoërskool Noordheuwel
Rekening nommer: 310391255
Tak: ABSA Krugersdorp
Takkode: 632005
Tipe rekening: Tjek
Kwitansies word voorsien.

Betalingsopsies

Debietorder — word verkies. Vorms is beskikbaar.

Tjeks en Kontant — moet deur die leerling self by die administratiewe kantoor inbetaal word en kwitansie word voorsien.

Vir skoolgeld, gebruik asb skoolgeldverwysingsnommer. Vir alle ander betalings, meld waarvoor plus leerder se naam en van.

Ons Erfenis

Ons Erekode

As leerlinge van Hoërskool Noordheuwel

  • bely ons die almag van God, Hy die Beskikker oor al ons weë
  • glo ons in Christus, die Saligmaker
  • staan ons vas in die handhawing van ons taal, kultuur en tradisies
  • erken ons die reg van andere tot eie identiteit
  • respekteer ons ons ouers, ons meerderes, ons gelykes en ons minderes
  • wil ons lewe en werk vir ons land en ons volk

AS SEUN eer ek die dogters van my volk
AS DOGTER huldig ek die seuns van my volk

Saam streef ons na:

  • die nakoming van ons plig op akademiese en alle ander gebiede
  • lojaliteit teenoor ons skool
  • wellewendheid teenoor andere
  • alles wat lieflik en loflik is, gekroon in Krag deur Kennis
Ons Erekode

Ons Skoolwapen

  • Die drie wit heuwels onder die blou lug op die wapen, dui daarop dat ons skool gegrond is op die rotskrag van Geloof in ons God, ons volk en onsself, Liefde vir ons God en ons naaste en Hoop op wysheid en krag van Bo.
  • Die wit agtergrond is simbolies van reinheid, eerlikheid, integriteit en edelmoedigheid.
  • Die windroos is simbool van rigting en doelgerigtheid.
  • Die goue lourierblare word toegeken vir uitsonderlike prestasies en word slegs dan met die skoolwapen gekombineer.
Ons Skoolwapen

Ons Skoollied

Waar die heuwel dien as voetstuk
en 'n wye uitsig bied,
Staan ons skool, ons Alma Mater,
Klink van noordesy, óns lied.
Met 'n krag-deur-kennis strewe
staan ons saam en doelgerig.
Neem ons elke dag se vorming
as 'n voorreg, vreugde, plig

Refrein

Met die windroos in ons hande
sal ons koersvas rigting hou.
Krag-deur-kennis – as ons kompas –
Bring ons tot by Hemelblou

Vers 2

Diep geanker in die rotskrag
van wat edel is en reg,
sal ons visieryke dade
deur die tyd se eise vleg.
Laat die wind uit alle oorde
dan maar loei en newels bring.
By Noordheuwel sal vreesloos
die Geloof steeds voorwaarts dring!

Ons Skoollied
Skoolreëls

Skoolreëls

Alle leerders ontvang 'n volledige stel skoolreëls voor in hul Noriedagboek aan die begin van elke skooljaar. 'n Volledige stel kan hier afgelaai word of is ook op aanvraag beskikbaar by ontvangs. Die reëls in verband met skooldrag is ook hier beskikbaar. Hierdie is slegs 'n uittreksel van die algemene skoolreëls wat van belang sal wees vir voornemende leerders. Dit is egter alle leerders se verantwoordelikheid om ten alle tye op hoogte te wees van alle skoolreels. Onkunde sal nie as verskoning vir die verbreking van reëls aanvaar word nie.

SKOOLURE

Maandag tot Vrydag 07:25 – 14:00.
Leerders wat nie reeds teen 07:30 in die vierkant /in die klas aangemeld het nie, is laat. Laatkommers moet by die Norieraad of personeel aanmeld en die skooldagboekie inhandig vir kontrole. Leerders wat laat is, moet nogtans in die saal of vierkant aansluit.

AFWESIGHEDE

  • Leerders mag slegs as gevolg van siekte of 'n grondige rede afwesig wees.
  • Ouers sal op dieselfde dag per sms in kennis gestel word indien 'n leerder afwesig gemerk word gedurende registerperiode.
  • Indien 'n leerder afwesig is, word verwag dat ouers die kantoor voor 9:00 sal skakel.
  • 'n Mediese sertifikaat is 'n vereiste vir afwesighede tydens amptelike toetse/eksamens.
  • Dit is die leerders wat afwesig was se plig om agterstallige skoolwerk in te haal. Hulle kan egter staatmaak op die onderwysers se ondersteuning.
  • Skoolversuim (en bank van periodes) word in 'n ernstige lig beskou en kan tot skorsing lei.
  • Leerders wat langer as 10 dae sonder wetlike verskoning afwesig is, sal van die klasregister geskrap word volgens die Onderwysbeleid oor leerderaanwesigheid.

BOELIES EN KUBERBOELIES

Hoërskool Noordheuwel beskou bullebakkery en kuberbullebakkery sowel as die misbruik van sosiale media op enige wyse in 'n baie erstige lig. Daar word streng teen leerders wat hulle hieraan skuldig maak opgetree volgens ons vasgestelde beleid.

DRANK-, DWELMMISBRUIK EN ROOK

  • Geen leerder mag alkoholiese drank op die skoolterrein bring of gebruik nie. 'n Leerder wat alkoholiese drank gebruik het, mag ook nie die skoolterrein onder die invloed daarvan betree nie.
  • Die tabakwet verbied enige rook in die geboue en op die skoolgronde. Geen leerder mag dus op die skoolterrein of in skooldrag rook nie.
  • Geen leerder mag in besit wees van vuurhoutjies, aanstekers of sigarette nie.
  • Leerders mag nie na tabak ruik, of in die geselskap, of in die omgewing van rokers wees nie.
  • Geen rookpype (hubbly) of elektroniese sigarette word op die terrein toegelaat nie.
  • Volgens Onderwyswet 84 van Artikel 8a van 1996 mag enige ten enige tyd leerder vir dwelms getoets word en ouers sal binne 24 uur in kennis gestel word van die uitslag. Daar sal streng opgetree word teen leerders wat positief toets. Die skool se volledige dwelmbeleid is beskikbaar in die Noriedagboek.

Aflaaibare Dokumente

Klik op enige van die skakels hieronder om die spesifieke dokumente af te laai.

Toelating Aansoekvorm

Aansoekvorm vir nuwe leerders

Laai af

Skoolfonds Debietorderopdrag

Debietorde vorms vir skoolfonds

Laai af

Akademiese Merietetoekennings

Kriteria vir akademiese prestasies

Laai af

Bullebakkery & Kuberbullebakkery Beleid

Beleid teen bullebakkery

Laai af

Inligtingstelsels & Sosiale Media Beleid

IT en sosiale media regulasies

Laai af

Kriteria vir Toekennings van Kultuurprestasies

Kultuur toekennings kriteria

Laai af

Uittekenbeleid

Beleid vir leerder uittekens

Laai af

Skoolreëls

Volledige stel skoolreëls

Laai af

Verandering van Vakke

Vorm vir vakkeuse veranderinge

Laai af

Vakkeuse Vorm

Vorm vir vakkeuse keuses

Laai af

Nuwe Nories

Welkom by Hoërskool Noordheuwel

Meer inligting aangaande die Departement van Onderwys se aanlyn registrasies sal hier verskyn soos wat dit deur die Departement bekend gemaak word. Aansoek om toelatingsdokumentasie wat by die skool of op die webblad beskikbaar is, kan voltooi word en dien as aanvullende inligting tot die amptelike aanlyn registrasie.

Aansoeke om toelating kan slegs geldig wees indien daar 'n Departementele aanlynregistrasienommer ('WA' nommer) toegeken is en dit op die inskrywingsvorm aangebring is.

Vereiste Dokumente: Afskrifte van die leerder se geboortesertifikaat, beide ouers se ID's, bewys van adres en laaste rapport moet ook die aansoek om toelating vergesel.

VEREISTES
  • Toelating is streng onderhewig aan die beskikbaarheid van benutbare akkommodasie en personeel soos deur die onderwysbeleid bepaal.
  • Aanvaarding van die etos van die skool is verpligtend.
PROSEDURE

Voornemende leerlinge voltooi 'n aansoekvorm. Voorkeur word verleen aan leerlinge binne ons voedingsarea. Die uitvoering hiervan word aan die skoolhoof gedelegeer. Die beheerliggaam kan van tyd tot tyd die toelatingsvereistes hersien en wysig soos die behoefte daarvoor mag ontstaan.

ONDERNEMING DEUR OUERS EN LEERLINGE

Ouers en leerlinge onderneem by inskrywing tot hierdie inrigting om die toelatingsvereistes en verpligtinge wat dit meebring te aanvaar. Dit behels die volgende:

  • Afrikaans is die voertaal.
  • Bybelgefundeerde onderrig geskied.
  • Bewys moet gelewer word van akademiese prestasies aan vorige inrigting.
  • Gesag en dissipline van die skoolhoof en onderwysers moet aanvaar word.
  • Alle reëls en regulasies van die skool moet eerbiedig en nagekom word.
  • Onderriggelde moet betaal word soos voorgeskryf deur die beheerliggaam tensy anders ooreengekom met die inrigting.
  • 'n Leerling wat hom/haar sou skuldig maak aan wangedrag of ongehoorsaamheid aan die dissipline van hierdie inrigting, se voortgesette toelating sal heroorweeg word.
  • Ouers, voogde en leerlinge stem kontraktueel toe tot die afdwinging van die skool se beleidsdokument rakende alkohol- en dwelmgebruik/misbruik. Dit behels onder meer dat 'n leerling op ad hoc basis urine toetsing kan ondergaan (kostes vir ouers/voog se rekening). Beleid beskikbaar op aanvraag in administratiewe kantoor.
INSKRYWINGS- EN SKOOLFOOIE

Die maandelikse skoolfooie en betalingsopsies is beskikbaar in die Dokumente afdeling.

Geen "ontgroening" vind plaas nie. 'n Vooraf beplande inskakelingsprogram word gedurende die eerste week van die nuwe jaar deur die gr. 8-leerders gevolg.

Hierdie program het ten doel om die nuwe leerders sosiaal in te skakel en hulle vertroud te maak met die skoolstelsel. Dit word afgesluit met 'n Gr 8-konsertproduksie wat die ouers kan bywoon. Voornemende gr 8-leerders ontvang reeds in Oktober/November 'n inskakelingspakkie wat hulle van die nodige inligting voorsien.

By Nories wil ons graad hê dat alle graad 8's moet welkom voel! Ons het elke jaar 'n spesifieke tema en hierdie jaar is hulle die Dobbertjies. Op die stadium dobber hulle en is "hulpeloos" maar hier by Nories gaan hulle leer om te swem. Elkeen sal met tyd sy/haar plekkie vind en deel word van Nories.

Ons wil graag hê dat elke graad 8 trotse leerders moet wees en 'n passie vir die skool sal hê.

Graad 8's van 2026

Ons verwelkom ons nuwe Gr 8's van 2026

Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026
Graad 8 - 2026

Oud-Nories

Luister na die stories van ons voormalige leerders wat Nories gelaat het

Ane de Kock
Ane de Kock

Matriek 2020

Die Norie Natuurbewaring groep het 'n reuse rol gespeel in my beroepskeuse en passie vir ons natuur en diere. Dit het my blootgestel aan die verskillende beroepe en die uitreike en veldwerk waarvan ek deel was het my praktiese vaardighede geleer, asook gehelp met my universiteit aansoek vir veeartsenykunde. Die groep het die fondasie gelê waarop ek na skool my beroep begin bou het as Veearts, en het dit moontlik gemaak vir my om my passie ten volle uit te leef.

Zunel Laing
Zunel Laing

Matriek 2018

Te danke aan my onderwysers wat my geleer het van die mooie natuur, ons afrikaanse taal en sy kuns, leierskap gegrond in waardes en om my drome na te streef - is ek vandag presies waar ek moet wees- 'n tegniese veld agent én vryskutjoernalis in die mooie Wes-Kaap. Dankie Nories 🩵

Rico Immelman
Rico Immelman

Matriek 2025

Nories se kultuur het vir my 'n fondasie gebou om die film- en teaterbedryf te betree met al die nodige kennis. Noordheuwel het vir my baie deure oopgemaak.

Hardus Nortjé
Hardus Nortjé

Matriek 2021

Nories het vir my soveel geleenthede gebied en baie deure oopgemaak. Ek is uitgedaag om harder te werk en beter te doen. Dit het nie net my vermoëns ontwikkel nie, maar ook my karakter gevorm. Ek het die groot voorreg gehad om as hoofseun van die skool te dien en ook die eerste rugbyspan as kaptein te lei. Hierdie verantwoordelikhede het my geleer wat dit beteken om met integriteit te lei, verantwoordelikheid te neem en ander eerste te stel. Ek sal vir altyd trots wees om te sê dat ek 'n Norie was.

Albert Loubser
Albert Loubser

Matriek 2015

Krag deur kennis is nie net 'n skoolleuse nie. Dis die dryfkrag wat my inspireer om elke pasiënt met vertroue en deernis die beste moontlike sorg te gee.

Minke Marais
Minke Marais

Hoofdogter 2019

By Hoërskool Noordheuwel het ek leer droom. Waar my passie vir toneelspeel en drama meer as net 'n droom geword het. Waar ek my vlerke leer sprei het. Vandag vlieg ek as 'n volwaardige professionele aktrise.

Mathilda Steyn
Mathilda Steyn

Matriek 2021

Tussen kronkelende bergpaaie en klowe waar avontuur om elke draai wink, het die stapklub my karakter help vorm, my veerkragtigheid versterk en blywende vriendskappe gevorm. Elke uitstappie was 'n uitnodiging om uitdagings aan te pak en elke tree 'n geleentheid waar ek iets nuut kon leer: om aan te hou wanneer die pad steil raak, om die klein oomblikke raak te sien en om met nuwe moed vorentoe te kyk.

Megan Balt
Megan Balt

Matriek 2019

Hoërskool Noordheuwel was vir my soveel meer as net 'n skool, dit was die plek waar my karakter gevorm is. Na my studies aan NWU Potchefstroom het ek besef dat 'n mens altyd nog groter kan droom, en dit het my gelei China, Shanghai Jiao Tong Universiteit [上海交通大学] waar ek Mandaryns studeer het ter voorbereiding vir 'n loopbaan in besigheid. Ek sal altyd 'n trotse Norie bly!

Kiara van Eeden
Kiara van Eeden

Matriek 2024

Hoërskool Noordheuwel het die grondslag vir my netballoopbaan gelê en my die geleentheid gegee om op provinsiale, nasionale en internasionale vlak te presteer. Deur die goeie én uitdagende tye was my afrigters en die skool se ondersteuning van onskatbare waarde en het dit my gevorm tot die speler en persoon wat ek vandag is.

Deel jou Nories-storie met ons!

Kontak Ons

Ons Tema Vir 2026

Hierdie jaar sal ons skool fokus op die vervulling van elke leerder se potensiaal en die bou van 'n gemeenskap waar almal skyn.

"In die Norie-tuin, groei jou drome ruim"

Ons Tema vir 2026