Ons Tema Vir 2026
Vanjaar fokus ons op die vervulling van elke leerder se potensiaal en die bou van 'n gemeenskap waar almal se lig skyn.
"In die Norie-tuin, groei jou drome ruim"
By Noordheuwel glo ons aan die holistiese ontwikkeling van elke leerling; dus gee ons op sportgebied erkenning aan elkeen se uniekheid. Ons wil vir elke leerling soveel as moontlik geleenthede bied om sy/haar passie en talente op sportgebied uit te leef. Daarom bied ons ʼn verskeidenheid spansportsoorte en individuele sportsoorte aan waaruit leerlinge kan kies.
By Noordheuwel is sport soveel meer as bloot net ʼn tydverdryf. Hier is sport ook ʼn emosionele saak wat passie ontlok. Dit is op verskeie terreine vir deelnemers, sowel as vir die ondersteuners, ʼn bron van genot. Hierdie positiewe emosies bevorder wedersydse respek vir mekaar en liefde vir die sport. Hegte vriendskappe word gebou en herinneringe word geskep, waaroor daar jare later nog op reünies gesels word. Dit is hier waar ware Norie-bande gesmee word.
Nories se sportmanne en -vroue blink uit in verskeie sportsoorte en ons glo dat erkenning aan ons uitblinkers dien as aansporing om altyd harder te probeer. Die kriteria waarop sporttoekennings gebasseer word, kan hier afgelaai word.
Die ontwikkeling van elke speler se potensiaal en die bou van karakter.
Provinsiale Spelers
Nasionale Verteenwoordigers
Kampioenskappe Gewen
Sportontwikkeling
| 25 Julie | Rugby vs Menlo | Weg |
| 30 Julie | Netbal: SASN Kampioenskappe | o/14A |
| 31 Julie | Hokkie Dogters | Friendship Cup |
| 1 Augustus | Rugby vs Affies | Tuis |
| 4 Augustus | Hokkie vs Curro Hazeldean | Weg |
| 8 Augustus | Rugby vs Middelburg | Tuis |
Bly op hoogte van al die nuutste sportgebeure en -prestasies
Nories se spogsport!
Ons werk al vir die afgelope paar jaar hard daaraan om ons droom te bewaarheid: om onder die Top Tien Skole in Suid-Afrika mee te ding.
Met ʼn baie knap span afrigters en ʼn uiters talentvolle groep atlete het NORIES die atletiekwêreld die afgelope drie jaar behoorlik op sy kop gekeer.
Nories eindig in 2022 eerste in die NWU-Super Interhoër se B-afdeling. Ons skuif na die A-afdeling in 2023 en ons verras vriend en vyand met ʼn uitstekende 3de plek. In 2024 ewenaar ons hierdie prestasie.
Tydens die Curro Podium byeenkoms waar die sterkste atletiekskole in Suid-Afrika kragte meet, eindig NORIES in 2023 vyfde en in 2026 derde. Vanjaar word 20 atlete gekies om aan die SA Skolekampioenskap deel te neem in die Paarl. Vanaf 2022 tot 2024 word 56 atlete vir die Gautengspan gekies vir deelname by die SA Kampioenskap.
NORIES se atletiek gaan van krag tot krag en ons kan met reg daarop aanspraak maak dat ons onder die drie topskole in die land tel. Enige atleet wat in ATLETIEK wil uitblink, sal geen fout maak om NORIES te kies nie!
Norie-Netbal bied aan elke netbaldogter die geleentheid om die nodige liggaams- en lewensvaardighede te ontwikkel, sodat sy haar volle potensiaal kan ontwikkel, kan bereik en ook kan benut – tot voordeel van haarself, haar span en haar skool. 13 Spanne neem jaarliks deel aan die PUK-reeks en JOMO-liga.
By Norie-netbal skep ons graag ʼn omgewing waarin elke speelster ʼn liefde vir die spel ontwikkel, gesonde gewoontes aanleer, goeie sportmangees ervaar, asook kompeterend deelneem. Ons bied ook aan dogters puik afrigting en geleenthede. Die sukses wat Hoërskool Noordheuwel se netbalspanne behaal, is grootliks toe te skryf aan die hoë vlak van afrigting deur uiters bekwame en gekwalifiseerde afrigters.
Norie-trots. Noordheuwel neem jaarliks aan groot toernooie deel: Die Gauteng-kampioenskappe en SASN-Kampioenskappe. Talle dogters word ook jaarliks in provinsiale spanne en SA oefengroepe opgeneem. Verskeie Norie-spanne het al medaljes by die Gauteng- en SASN-kampioenskappe verower. In die laaste 3 jaar het ons 23 dogters in Gautengspanne en 5 dogters in SA oefengroepe. Ons lewer ook ons eerste Junior Protea op, naamlik Kiara van Eeden. Sy word gekies vir die SA o. 16-span, SA o. 17-span, asook die SA o. 21-span wat in 2025 aan die Wêreldbekker deelneem.
Fasiliteite – Die skool het vyf weervaste netbalbane met spreiligte.
Vir baie spelers is hokkie net 'n sport, maar by Hoërskool Noordheuwel is dit vir ons 'n passie. Hokkie skep die geleentheid vir spelers om vriende te maak, weg te breek van die alledaagse dinge van die lewe en vir ander maak dit deure oop na 'n beter toekoms.
Noordheuwel se hokkie is gegrond op drie pilare, naamlik godsdiens, ontwikkeling en familie. Dit is juis die laaste pilaar wat by ons uitstaan. Hoërskool Noordheuwel is 'n plek waar elke speler hom-/haarself kan uitleef met die wete dat die persoon langs hom/haar soos familie is. Ons poog om 'n kultuur van omgee, opoffering en deursettingsvermoë te kweek by elke speler. As span is ons nederig in die wen en elke verloor skep 'n geleentheid om iets te leer.
Elkeen van ons afrigters het 'n ongelooflike passie vir die sport, die spelers en hul ontwikkeling as spelers en mense. Daarom kan ons 'n gebalanseerde speler lewer wat eendag die lewe kan aanpak met ywer en visie.
Wat kan ons bied:
Nories se rugby het die afgelope jare van krag tot krag gegaan en tans word ons as een van die toonaangewende skole noord van die Vaal gereken. Noordheuwel neem in die hoogste ligas deel en speel jaarliks in van die gesogste toernooie in die land. Ons kompeteer in al die topkompetisies soos die Noord/Suid, die Wildeklawer en die toppaasfeestoere.
Jaarliks lewer Nories provinsiale spelers op in onderskeidelik die o. 16-Grant Khomo Leeusspan, die o. 18-Leeus Cravenweekspan en die SA A-span en SA Skolespanne. Ook na skool hou die Nories die skool se naam hoog deurdat verskeie seuns in die Varsity Cup o. 19, provinsiale en Europese spanne speel, sowel as in die SA o. 20-spanne en verskeie URC-spanne.
Rugby word met passie by Noordheuwel gespeel en is dus ook ’n leefwyse.
Noordheuwel is die toonaangewende krieketskool aan die Wesrand en presteer jaarliks baie goed in al die kompetisies waarin daar deelgeneem word. Noordheuwel beskik tans oor twee krieketvelde, 10 buite-oefennette en 'n binnenshuise krieketfasiliteit waar spelers op 'n individuele basis gehelp word met die hulp van Pitch Vision en 'n span baie bekwame en gekwalifiseerde afrigters.
Ons visie is om kwaliteitskrieket te speel en onsself te meet aan die beste krieketskole in Suid-Afrika. Noordheuwel neem aan die volgende ligas deel:
Noordheuwel spog jaarliks met uitsonderlike individuele prestasies. Verskeie spelers word in die Gauteng-Wes spanne opgeneem en van ons seuns gaan 'n stap verder en verteenwoordig die Central Gauteng Lions op nasionale vlak.
Tennis by Hoërskool Noordheuwel floreer en al ons spelers is altyd gemotiveerd om te speel. Ons gebruik die tennisbane by die Noordheuwel-buiteklub vir wedstryde en oefeninge.
Ons tennisspanne neem deel aan die baie kompeterende Gauteng-Noord liga waar ons teen tennisskole soos Affies, Menlopark en Waterkloof meeding. Ons speel ook in die Gauteng Sentraal en die plaaslike D2/D12-liga.
Ons neem aan Buffelspoort, Potch Gimnasium en Menlopark se toernooie deel om ons vaardighede in te skerp.
Die Noordheuwel-klub vorm ook die oefenbasis vir die Western Tennis- distrikspanne. Elke jaar word die toptennisspelers in die omgewing genooi om proewe in hulle onderskeie ouderdomsgroepe te speel. Die beste spelers word gekies om die distrik te verteenwoordig teen ander provinsiale en distrikspanne soos Gauteng-Noord, Gauteng-Oos en Noordwes. Van ons leerders word elke jaar gekies om deel te wees van hierdie spanne.
Ons bied geleentheid vir alle spelers wat belangstel om in te skakel by die skool se tennis.
Fietsry is sonder twyfel ’n baie gewilde sportsoort.
By Noordheuwel se fietsryklub is dit nie veel anders nie. Ons deel almal ʼn passie vir die natuur en die buitelug waarin ons hierdie sport kan beoefen en terselfdertyd ʼn gesonde leefstyl kan handhaaf. Ons presteer en kompeteer op alle vlakke van fietsry, want soos die afrigter altyd vir die fietsryers sê: "Dit is altyd ʼn wedren!"
Noordheuwel het al vele kampioene opgelewer, met leerders wat tans vir professionele spanne ry en volledig geborg is. By Noordheuwel se fietsryklub is geen roete te klipperig of geen afstand te ver nie.
Dit is 'n ideale wintersport as jy nie betrokke is by ander sportsoorte nie.
Dit is ‘n goeie geleentheid om jou tydens die wintermaande vir die atletiekseisoen voor te berei. Nories gaan ook inskakel by Gauteng-Noord se skoleliga op Woensdag middae. Daar is baie langasems wat atlete kan help om fiksheid te verbeter. Kom oefen saam!
Cheerleading is een van Hoërskool Noordheuwel se unieke aanbiedings. Dit is die enigste sport in die skool wat aan seuns en dogters van alle grade die geleentheid bied om saam in een span te kompeteer.
Nories Cheerleaders het reeds vyf nasionale titels ingepalm en sewe keer 'n tweede plek tydens die jaarlikse SAMCA Nasionale Kampioenskap verower. Ons is die huidige "SAMCA High School Large Co-ed" kampioene.
Talle van ons cheerleaders is vir provinsiale en Protea-spanne gekies. Cheerleading is 'n sport vir almal. Geen vorige ervaring word benodig om aan hierdie sport deel te neem nie. Al die vaardighede word deur ons baie bekwame afrigter vir die deelnemers aangeleer. Ons leuse is: "Een span, een familie."
Dit is een van ons skool se buitesportsoorte. Oefening vind dus op die ruiter se eie tyd en by selfgekose ruiterskole saam met afrigters in ons omgewing plaas.
Ruiters neem onder die skool se naam en in die skool se ruiterdrag aan die SANESA kompetisies deel. Daar is jaarliks vier kwalifiserende rondtes waarvan deelname aan drie verpligtend is. Hierdie kompetisies vind tussen Februarie en Junie te Maple Ridge in Heuningklip plaas. Ruiters wat vir die Gauteng-Wesspan gekies word, neem dan verder deel. Die skool gee erkenning vir prestasies wat in hierdie unieke sportsoort behaal word.
Muurbal is ʼn ongelooflike sportsoort. Dit verbrand hope kalorieë, bou spiere en verbeter spieruithouvermoë. Dit word beskou as een van die gesondste sportsoorte ter wêreld.
Muurbal is nie net ʼn lekker sportsoort om te beoefen nie, maar ontwikkel die liggaam op verskeie maniere:
Kom neem deel en bevorder jou fiksheid EN gesondheid.
Hoërskool Noordheuwel is nie net die hoogste skool in die land nie, maar ons duik ook in groot dieptes. Die skool se duikklub, Noo-rays, bestaan al vir 17 jaar en ons kwalifiseer gemiddeld so vyf duikers per jaar. Twee van die leerders wat by Noo-rays begin duik het, is al as instrukteurs gekwalifiseer.
Ons het ons eie instrukteur wat baie moeite doen om seker te maak dat elke Noo-ray ʼn veilige duiker is. Die jaar word afgesluit met ʼn heerlike toer na Sodwana waar ons al vir jare by Adventure Mania duik. Dit is altyd ’n groot avontuur!
By Hoërskool Noordheuwel speel ons gholf om dit te geniet.
Dit skep geleenthede vir seuns en dogters om nuwe plekke te sien en op bane te speel waar hulle nie noodwendig ooit self sou speel nie.
Gholf skep geleenthede om met mekaar te kompeteer en om nuwe vriende te maak.
By Noordheuwel word daar gepoog om die leerders jaarliks op toer te neem sodat hulle op topbane, plaaslik sowel as internasionaal, kan speel.
Skaakmat – Maak die regte skuif!
Twee skaakspelers is vasgevang in 'n spel! Die gevolg? Jou geheue word getoets en jy pas probleemoplossing toe. Dis die kern van die spel. Skaak help leerders met kognitiewe ontwikkeling en analisering. Verder dra skaak by tot die verbetering van vaardighede soos geduld, kritiese ontleding en spanwerk.
By Hoërskool Noordheuwel kan enige leerder kom speel - daar is geen voorvereistes nie. Leerders wat wil leer hoe om te speel, is ook welkom.
Skaak plaas spelers in die optimale posisie om enige teenstander te trotseer.
Kom skuif saam!
Hoëprestasiesentrum
As deel van ons filosofie om leerders op alle vlakke te ontwikkel, bied Hoërskool Noordheuwel ʼn gimnasium vir al sy sportsterre. ʼn Sportwetenskaplike verseker dat leerders wetenskaplik en korrek oefen om die liggaam en spiere te versterk. Sodoende kan hulle gesond en fisies sterk wees om te voldoen aan die hoë eise wat sport aan hulle stel.
Noordheuwel hengel
Lus vir die viswaters? Kom hengel saam!
Hoërskool Noordheuwel neem jaarliks deel aan die Gauteng en Suid-Gauteng hoërskolehengelliga, waar ons reeds groot sukses behaal het. Seuns en dogters word uitgenooi om by ons aan te sluit en die lekker gees onder die hengelaars te kom beleef.
Ons splinternuwe padelbane bied aan leerders, ouers en die breër Norie-gemeenskap die geleentheid om een van die wêreld se vinnigste groeiende sportsoorte te geniet. Die bane skep 'n moderne ruimte vir ontspanning, fiksheid, vriendskaplike kompetisie en gemeenskapsbetrokkenheid. Kom ervaar die opwinding van padel by Nories!
Sluit aan by 'n gemeenskap wat dissipline, spanwerk en uitnemendheid bevorder.
Vanjaar fokus ons op die vervulling van elke leerder se potensiaal en die bou van 'n gemeenskap waar almal se lig skyn.
"In die Norie-tuin, groei jou drome ruim"